NUUT
Pensioenfondskantoor skuif na Brackenfell
Die Pensioenfondskantoor se fisiese adres is vanaf 1 November 2025 as volg:
NG Kerksentrum, Pastoriestraat, Arauna, Brackenfell.
Gebruik gerus onderstaande skakel om Google Maps se aanwysings na die nuwe kantoor te kry. By Kontak is daar ‘n kaart wat die parkeergebied aandui.
NUWE VORM VIR SANLAM VANAF 1 SEPTEMBER 2025
Die Benoemingsvorm gee aan die versekeraar (Sanlam) die opdrag aan wie die lewensversekering betaal moet word. Volgens die versekeringswet moet die versekeraar (Sanlam in die geval van die Predikante Pensioenfonds se lede) streng by die benoemingsvorm bly. Sanlam vereis dus ’n spesifieke benoemingsvorm ten opsigte van die risikovoordele (lewensversekering). ‘n Nuwe vorm is op 1 September 2025 voorsien. Alle lede moet hierdie vorm voltooi en aan die pensioenfondskantoor besorg. Klik op die rooi banier om die vorm oop te maak of af te laai.
2025 se Nuusbrief
Die Fonds se jongste nuusbrief kan hier afgelaai word: Nuusbrief 2025.
Hierdie nuusbrief bevat inligting oor ’n verskeidenheid sake soos die Fonds se prestasie, die lewensfasebeleggingsmodelle, die tweepotstelsel by bedanking of emigrasie, die omsetting- en voortsettingsopsie, sterftevoordele, die pensioenfondskantoor se verhuising en ’n lekkerlees artikel deur Paul Hutchinson, Verkoopsbestuurder van Ninety One.
Aktiewe lede – Omsendbrief vir die 2026 finansiële jaar
1 Maart 2025 tot 28 Februarie 2026: Omsendbrief vir 2026
Vorm vir opsionele lewensdekking vanaf 1 Maart 2025: Sterftedekking
Beskermingsdiens
Lede wat aftree en besluit om ’n eksterne annuïteitsproduk aan te koop, is soms onseker of hulle die regte besluit neem. Alexander Forbes bied nou ’n beskermingsdiens aan lede van die Predikante Pensioenfonds om objektief na die spesifieke produk en die koste daarvan te kyk. Die lid kan die voorstel, soos dit aan die lid voorgelê is, aan Alexander Forbes stuur. Teen ’n koste van R1 000 plus BTW (dit wil sê R1 150,00) sal Alexander Forbes die voorstel objektief beoordeel en aan die lid verslag doen. Kontak die hoofbeampte [Kontakbesonderhede] vir besonderhede oor hoe om die diens aan te vra.
Beleggingskeuse
Lede van die PPF het ’n keuse (wat hulle enige tyd skriftelik kan wysig) oor hoe hulle bestaande fondswaarde en hulle maandelikse bydraes tot die pensioenfonds belê moet word. Die keuse bestaan uit die kies van ’n model. Om die modelle te verstaan, behoort die lid kennis te neem van die verskillende portefeuljes en die verskillende bateklasse in hierdie portefeuljes. Lees die nuwe inligtingsdokument (September 2023) wat die PPF se opsies, portefeuljes en bateklasse verduidelik: Beleggingskeuses
Beleggingskeusevorm: Vorm
ALGEMEEN
Die Predikante Pensioenfonds van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika (PPF) is die pensioenfonds vir predikante van die NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-Kaapland), die NG Kerk in Noord-Kaapland, die NG Kerk in Oos-Kaapland, die NG Kerk in KwaZulu-Natal en vanaf 1 September 2021 ook die NG Kerk in die Vrystaat. By implikasie beteken dit dat al die gemeentes in die betrokke sinodes deelhebbers van die PPF is.
Die PPF het op 1 Januarie 2008 vanaf ’n vaste voordeel struktuur na ’n vaste bydrae struktuur omgeskakel.
Die PPF se aktiewe lede het op 30 April 2025 op 556 lede gestaan. Daar was toe ook 209 pensioentrekkers en 123 IFLA-lede (In-fonds Lewende Annuïteit). Die nuutste syfers kan telkens in die jongste Trusteeverslag gelees word.